Die Burger

Buite

As die Cederberge roep
JOHANN CRAFFORD
08/09/2008 07:58:00 PM - (SA)

Die Cederberge roep my al baie lank. Vir vroulief ook. Middel Augustus het ons besluit genoeg is genoeg en het gaan kuier by die Gecko Creek Wilderness Lodge. Elke keer wanneer mense ons vertel van hul ervarings en avonture in die Cederberge, en sout in die rou wonde vryf met foto’s ter illustrasie, word daai roepstem net al hoe harder.

Middel Augustus besluit ons twee van uitstel kom afstel, en ons vat die N7 tot so skuins anderkant Citrusdal. Dit is hier waar ons afdraai na Algeria en die Cederberge. Die sowat 4 km grondpad na Gecko Creek Wilderness Lodge (027 482 1300, 083 234 1112) se hek draf ons in ’n japtrap kaf, en van daar volg ons die 3 km of so se “plaaspad” tot in die klofie waar hierdie “terug na die natuur”-ervaring op ons wag. Gecko Creek, net so oor die 200 km van Kaapstad af, is ’n selfsorgoord op ’n private natuurreservaat van 517 hektaar in die Cederberge, reg langs die Cederberg-natuurreservaat van 80 000 hektaar. Die oord het maar aan die begin van die jaar sy hekke vir die publiek oopgemaak, en volgens die eienaar, mnr. Linton Pope, gaan daar oor die volgende maande heelwat uitgebrei word, maar sonder om inbreuk op die natuurlike omgewing te maak.

Tans is daar drie houthutte (R180 per persoon per nag, beddegoed ingesluit) en drie tente (R140 per persoon per nag, beddegoed ingesluit) wat elk twee mense in gerief kan huisves. As jy jou eie tent en beddegoed saamvat, is daar plek vir nog sowat ses tente teen ’n skamele R90 per persoon per nag. Dan is daar ’n groot swembad, pragtige gemeenskaplike ablusiegeriewe, ’n ruim boma met volle kombuisgeriewe (insluitend potte, panne en eetgerei) en ’n lapa vir mense wat meer tradisioneel wil kos maak. Tans word sonkrag en gas (in die boma) gebruik, maar volgens Linton behoort elektrisiteit reeds in September ’n werklikheid te wees. Hy beplan ook ses kunsmatige grotte op die perseel wat elkeen ook twee mense sal akkommodeer, asook toiletgeriewe nader aan die hutte. Benewens ’n eersteklas-basis van waar mens die misterieuse Cederberge kan verken, sluit ander aktiwiteite voetslaan, bergfietsry, roei, visvang en perdry in. Reël waar nodig deur te bespreek.

Ek en vroulief het die eerste oggend die entjie grondpad Algeria toe gery, permitte gekoop (R35 elk) en toe teen die berg opgestap en -geklim tot by die waterval. Dis ’n stewige roete van so twee en’n half uur, maar absoluut die moeite werd. Daarvandaan is ons die minder as 30 km na die Cederberg private kelder vir ’n vinnige wynproe. Hier het ons ook permitte aangeskaf (R22 elk) om so 10 km verder na die pragtige San-rotstekeninge en bekende stadsaalgrot te gaan kyk. Die rotstekeninge is glo so 5 000 jaar oud en omring deur die treffendste sandsteenformasies. Plek-plek op die grondpad het ons verby ysterperde gery. Hierdie wêreld bied ’n smorgasbord van bergfietsroetes, van maklik tot moeilik.

Net soos die vele juwele van die Kaapse blommeryk, insluitend die San-rotstekeninge en die skouspelagtige sandsteenformasies, jou bedags sal verras, sal die vonkelende hemelruim met al sy “diamante” jou snags ’n spirituele ervaring bied. Daai lug is so skoon dat mens voel jy wil heelnag net op jou rug lê en na daai asemrowende skouspel kyk. O ja, geen kinders onder 16 of troeteldiere word by Gecko Creek toegelaat nie aangesien Hoka, dis nou Linton se mak wolf, dalk net kan besluit om vir ’n slag sy eie kos te vang! Hy verwelkom alle besoekers stertswaaiend so asof hulle net vir hom kom kuier. En geen musiektoestelle van enige aard nie. In die Cederberge duld die natuur net die minimum buite-invloede. En vat gerus ’n flits of twee saam sodat jy darem jou slaapplekkie ná donker kan opspoor. Nouja, dit was ons twee se eerste van nog baie besoeke aan die Cederberge, en Gecko Creek gaan ons beslis weer sien. Dan vat ek my bergfiets en kajak saam, en my stapstewels. Johann Crafford is ‘n vryskut-wyn- en reisskrywer.

Kontak hom op 073 235 7237 of by jayhcee@iafrica.com.